"Die planne van die hart,
is 'n mens s'n,
maar die antwoord van die tong,
is die Here s'n.
Al die paaie van 'n man
is suiwer in sy eie oë,
maar die Here
weeg geeste.
Rol jou optrede na die Here toe,
en jou voornemens sal gevestig word."
(Spr 16:1-3)
Elkeen van hierdie spreuke bevat 'n Hebreeuse idioom,
wat dit moeilik maak om te vertaal.
Dit is eers wanneer ons hulle saam lees,
dat ons verstaan wat dit wil sê.
Aan die een kant is daar
dit wat mense beplan,
aan die ander kant is daar
dit wat God doen.
Hierdie twee is in stryd met mekaar.
Ons het goeie voornemens,
of so dink ons.
Dan maak ons goeie planne,
of so dink ons.
En ons voer dit uit na die beste van ons vermoë,
of so dink ons.
En vir een of ander rede slaag ons dan nie.
Die probleem is:
ons het van die begin af by-motiewe gehad.
Selfsug, geldgierigheid en jaloesie
was van die begin af deel daarvan.
Ons het dit net probeer wegsteek van die Here.
Maar die Here ken ons harte
beter as wat ons dit self ken.
Dit help nie ons ontken dit nie.
Spreuke se raad is
om al ons kaarte op die tafel te sit.
Om met by-motiewe en al
na die Here toe te gaan.
Dan wys die Here vir ons die probleme uit.
Hy wys vir ons dat ons paaie nie so suiwer is nie.
Hy wys vir ons dat die gevolge wat ons soek,
glad nie so goed is nie.
En dan wys Hy vir ons 'n beter pad,
'n beter plan,
'n beter bestemming.
Ashton