"Moenie die Gees uitblus nie.
Moenie profesieë minag nie,
maar stel alles op die proef -
dit wat goed is,
moet julle aan vashou."
(1Tess 5:19-21)
Die vroeë kerk was gebou
"op die fondament van die apostels en profete" (Ef 2:20).
Hierdie profete,
gelei deur die Heilige Gees,
het die gemeente bemoedig
en gelei met God se woorde.
Die probleem was:
enigiemand kon voorgee dat God deur hulle praat.
Sulke mense doen dan die gemeente baie skade aan.
"Valse profesie" was nogal 'n winsgewende onderneming.
Paulus wil hê dat die Tessalonisense luister na hul kerkleiers,
God werk tog deur hulle,
maar die gemeente moet nie naïef wees nie.
Alles wat die leiers sê moet op die proef gestel word:
Is dit in ooreenstemming met die Skrif?
Gebeur dinge soos die profeet voorspel het?
Vandag het godsdiens weer 'n baie winsgewende industrie geword.
Baie van die geld-maak draai om populêre individue:
kerk-leiers waarna mense graag wil luister.
Hierdie profete maak net die regte geluide,
hulle maak valse beloftes
en dan gebruik hulle die Bybel
om hulle stellings te staaf.
Mense is versigtig om hierdie leiers te bevraagteken.
Hulle is bang dit maak van hulle ongelowiges:
mense wat nie die Bybel glo nie!
Maar dit is juis die Bybel wat sê
ons moet voortdurend ALLES op die proef stel!
Die Here verwag nie van ons
om in ‘n delusie te leef,
ter wille van ons godsdiens nie.
Beproef alles wat 'n dominee, pastoor of godsdienstige persoonlikheid sê,
en hou net vas
aan dit wat goed en waar is.
"as ’n profeet iets in die Naam van die Here aankondig
en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie,
dan het die Here nie met die profeet gepraat nie.
Dan het die profeet hom dit aangematig
en hoef jy jou nie aan hom te steur nie."
(Deut 18:22)
Ashton