"Soet is die slaap van die arbeider
of hy bietjie eet en of hy baie eet,
maar die oorvloed van die ryke
gee hom nie verlof om aan die slaap te raak nie"
(Pred 5:11)
Die prediker neem 'n stuk ironie waar:
slawe en arm mense wat sukkel om te oorleef,
slaap lekker,
terwyl ryk mense
wat eintlik geen bekommernisse moet hê nie,
op hul beddens rondrol.
Moderne wetenskap gee 'n verduideliking hiervoor:
Wanneer iemand fisies aktief is en hard werk,
skei sy brein chemikalieë af
wat hom laat goed voel,
en wat hom makliker aan die slaap laat raak.
Dan is sy slaap 'n wondersoete ding!
Ryk mense wat nooit hoef te werk nie,
en heeltyd net stres oor hulle besittings,
sukkel om aan die slaap te raak.
Dit is asof ons biologies ontwerp is
om 'n werk-rus ritme te hê:
Die harder ons werk,
die lekkerder kan ons rus!
Die geheim is om beide werk en rus
heelhartig en voluit aan te pak!
Wanneer ons werk
moet ons dit gefokus, pligsgetrou en met ywer doen -
voluit!
Wanneer ons rus
kan ons dit dan met 'n skoon gewete geniet.
Dan kyk ons terug na die vrugte van ons arbeid,
en ook dit gee vir ons vreugde -
iets om op trots te wees.
Verdien jou rus,
en geniet dit dan!
"Kyk watter goeie ding ek raakgesien het:
wat mooi is, is vir iemand
om te eet en om te drink
en om raak te sien die goeie
van al sy moeite waarmee hy hom bemoei het onder die son
gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee -
want dit is sy beloning!"
(Pred 5:17)
Ashton