Paastyd moet ons altyd aan God se goedheid en onvoorwaardelike liefde herinner.
Redding is nie iets wat enige een van ons verdien nie.
God het dit eenvoudig in liefde en genade kom skenk.
In die lig van die kruisiging skryf Paulus die brief aan die Efesiërs.
In Efesiërs 1:7 skryf hy:
“Dit was soos ‘n handelstransaksie: omdat ons sondig was,
was ons God se vyande. Toe kom Jesus en betaal wat nodig is,
om weer alles tussen ons en God reg te maak.
Dit het Hom wel sy lewe gekos,
maar die vrede is herstel tussen God en almal wat aan Jesus se kant staan.”

Dat God toegelaat het dat sy Seun ‘n afgryslike dood in ons plek gesterf het,
is ‘n klinkklare bewys dat ons vir Hom kosbaar is, en dat Hy ons innig liefhet.

In 1935 het Fiorello LaGuardia, die burgemeester van New York,
onverwags by die hof opgedaag, en die regter se plek ingeneem.
In die beskuldigdebank was ‘n arm vroutjie, wat brood vir haar gesin gesteel het.
Die winkeleienaar het geweier om die klag terug te trek.
LaGuardia het gesê die wet bly die wet.
Die straf is of ‘n boete van tien dollar, of tien dae tronkstraf.
Hy het ‘n tien dollar noot uit sy sak hehaal, en gesê daarmee is haar boete vereffen.
Maar hy het ook elkeen teenwoordig beboet,
omdat hulle nie ingegryp het om ‘n arm vrou te help nie!
Die bode van die hof moes die geld insamel en aan die vrou betaal.
‘n New Yorkse koerant het berig dat ‘n verleë winkeleienaar, sewentig aangeklaagdes,
en ‘n handvol polisiemanne bygedra het om ‘n arm vrou te help!

Dit herinner ons aan God se geregtigheid en liefde.
Die straf vir die sonde is die dood.
Maar Jesus het vir ons die prys betaal, en gesorg dat ons saak met God reg is.

Dit gaan nie oor wat jy reg of verkeerd doen nie,
maar oor wat God vir jou gedoen het in Christus.
Satan wil jou laat glo dat wat jy doen belangriker is as wie jy is.
Al doen jy als reg kan jy nog steeds nie God se genade verdien nie!
En al doen jy verkeerd sal God nie ophou om jou lief te hê nie.
Moenie Satan glo nie!

Goeie Vrydag en Paasfees het jou vrygemaak in Christus!
Dit alles is die werk van God!

Ernest