"Toe sê Jesus vir hom:
'Bêre jou swaard op sy plek!
Want elkeen wat die swaard neem,
sal deur die swaard verwoes word!
Of dink jy dat ek nie in staat is
om vir my Vader om hulp te vra nie,
en sal Hy dan nie dadelik vir my
meer as twaalf legioene engele stuur nie?'"
(Mat 26:52-53)
Sien dit vanuit Petrus se perspektief:
Hy is baie lief vir Jesus,
hy sien homself as 'n getroue vriend,
en 'n ywerige volgeling van die "Jesus-beweging",
'n beweging wat geregtigheid op aarde sal bring!
Nou kom daar 'n klomp polities-gemotiveerde mense
om hom op valse aanklagte tereg te stel!
Dit kan nie geduld word nie!
Watter wrede onreg!
Daarom neem Petrus sy swaard uit sy skede,
en slaan Malchus se oor af!
Hy staan op vir wat reg is,
en baklei teen wat verkeerd is.
En dan raas Jesus met hom!?
Jesus voeg 'n aanhaling by as verduideliking:
"want wie die swaard neem,
sal deur die swaard verwoes word".
Die aanhaling is uit 'n "targoem" van Jes 50:11.
'n Targoem is 'n Aramese vertaling en kommentaar
op die Ou Testament.
Jes 50:11 praat van mense wat hulle pyle aan die brand steek,
net om self deur die vuur verwoes te word!
En dit alles net omdat hulle nie op God vertrou nie!
Jesus sê eintlik vir Petrus:
"Ek verstaan jy wil veg vir geregtigheid,
maar wat nou gebeur,
is deel van God se plan,
juis om geregtigheid te vestig!
Ek wil nie hê jy moet self deelneem aan geweld,
en so jou eie lewe verwoes nie."
Ons maak vandag nog dieselfde fout.
Ons dink God het "hulp" nodig in hierdie wêreld van onreg.
Dan verlaag ons onsself tot geweld,
en dan word ons gestraf.
Ons verlaag onsself tot rassistiese aanmerkings
in reaksie tot politici se aanmerkings,
en dan word ons loopbaan verwoes.
Ons verlaag ons tot 'n oor-en-weer slegsêery,
en dan word ons reputasie en verhoudings verwoes.
"Die Here sal vir julle baklei,
en julle moet stil wees!"
(Eks 14:14)
Ashton