"Verwyder van My die geraas van jou liedere!
En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie.
Maar laat die reg aanrol soos watergolwe,
en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom."
(Amos 5:23-24)

Die priesters wat deur Amos aangespreek word,
het verstaan dat godsdiens oor God se teenwoordigheid gaan.
Hulle het offers gebring om Sy aandag te trek,
liedere gesing om Sy om Hom te trakteer,
hulleself rein gehou,
sodat Hy nie afgesit word deur hulle vuilheid nie.

Hulle het gedink God is heel tevrede met hulle,
want hulle godsdiens is tog so vroom.

"Nee, die Here is gewalg deur julle!"
sê Amos.
Hoekom?
Want orals waar jy kyk, is daar onreg!
Arm mense raak net dieper in die skuld,
terwyl ryk mense wins uit hulle maak.
Die ekonomie word deur omkopery gedryf!
Belastings raak net groter en groter,
Die las raak swaarder en swaarder op die landsvolk -
dieselfde landsvolk wat nie saam kan kom sing nie,
want hulle is vasgevang in skuld-slawerny.

Vandag nog kry ons hierdie soort "vroom" godsdiens.
Mense plak Bybelverse op hulle motors,
Hulle speel blêrende geestelike musiek, sodat almal dit kan hoor.
Hulle deel geestelike boodskappe op sosiale media,
En neem deel aan al wat 'n kerkaktiwiteit is.

En dit is ook nie verkeerd nie!
Die Here is werklik gelukkig daarmee.

Maar dan gaan dieselfde mense en koop 'n amptenaar om.
Dieselfde mense weier om hulle werkers 'n regverdige loon te betaal.
Dieselfde mense loop hulle klieënte en vennote in.

Dan ly die Here se naam skade!
Dan is hulle godsdiens eintlik godslastering.
Dan is God gewalg deur hulle vroomheid.

My en jou taak is duidelik.
Ons moet God se karakter uitbeeld in hierdie wêreld.
God is regverdig,
daarom moet ons ook regeverdig wees.
God is waarheid,
daarom moet eerlik wees.
God is liefde,
daarom moet ons vir mekaar omgee.

"Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit:
om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek
en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld."
(Jak 1:27)

Ashton