"En van daardie oomblik af het Jesus begin preek
en Hy het gesê:
'Bekeer julle!
Want die koninkryk van die Hemele het naby gekom!'"
(Mat 4:17)

Die woord "bekeer" het afgesaag geraak.
Niemand kan saamstem wat dit nou eintlik beteken nie.
Sommige meen dit beteken jy moet jou "hart vir die Here gee".
Ander dink dit beteken jy moet jou lewe regruk.
En nog ander dink dit beteken net jy moet 'n Christen word.

Die Griekse woord vir "bekering" beteken letterlik
"om jou denke te verander".
Dit is wat gebeur vóór iemand hulle optrede verander.
Die verstaan was dat 'n mens eers anders kan optree,
as mens anders dink.

Paulus het opgehou om Christene te vervolg,
toe hy aan Christus as die beloofde Messias begin dink.
Job het opgehou om God te blameer vir sy swaarkry,
toe hy besef dat God selfs in onverklaarbare chaos heers.
Petrus het opgehou om nie-Jode as "onrein" te behandel,
toe Hy besef dat God net so lief is vir hulle as vir hom.

John Newton, was 'n slawehandelaar,
voor hy 'n predikant geword het.
Hy het 'n losbandige lewe gelei,
want hy was oortuig sy sonde is te groot om vergewe te word -
waarom nog die moeite doen om sy lewe te verander?
Dis eers toe Hy God se onbeskryflike
genade tydens 'n seestorm ervaar,
eers toe hy besef dat God alle sondaars kan vergewe,
dat hy sy leefwyse verander het.

As Jesus praat van "bekeer",
bedoel Hy dat ons anders moet dink oor dinge.
Hy begin daarom sy bergrede deur mense se verwagtings
heeltemal om te keer.
Geseënd is die armes,
eerder as die rykes.
Geseënd is die sagmoediges,
eerder as mense wat op hulle reg staan.
Geseënd is die wat vervolg word,
eerder as die mense wat gemaklike lewens lei.

"Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie,
maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is,
wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."
(Rom 12:2)

Ashton