"En hulle (die Samaritane) het hom nie verwelkom nie,
want hy was vasbeslote om na Jerusalem te gaan.
Maar toe die dissipels, Johannes en Jakobus, dit merk,
het hulle gesê:
'Here, wil U hê dat ons vuur moet afroep vanuit die hemel
en hulle verteer?'
Hy het egter omgedraai en hulle tereggewys."
(Luk 9:53-55)
Beide die Jode en die Samaritane het hulself as Israeliete beskou.
Beide het die Eerste 5 boeke van die Bybel beskou
as God se wil geopenbaar deur Moses.
Beide het geglo God het vir hom net een aanbiddingsplek aangewys,
en mense mag net daar vir Hom offers bring.
Die Jode het egter gemeen daardie aanbiddingsplek is in Jerusalem.
En die Samaritane het gemeen dit is op die berg Gerísim.
Hierdie teologiese geskil was so groot tussen die groepe,
dat hulle mekaar gehaat het,
en die heeltyd wou keer dat mense na die ander se aanbiddingsplek gaan.
In 128 v.C. het die Jode se hoë-priester, Johannes Hyrkanus,
so ver gegaan om die Samaritane se tempel op Gerísim te verwoes!
So het dit gebeur dat die twee groepe,
wat eintlik dieselfde God aanbid,
heeltyd kwaad was vir mekaar,
en mekaar probeer potjie.
Om gasvryheid aan reisigers te weier,
was 'n groot belediging in die antieke tyd.
Daarsonder kon iemand maklik omkom van honger of dors.
Die Samaritane word kwaad toe hulle hoor Jesus gaan Jerusalem toe,
en sal so ver gaan om Hom en sy dissipels oor te gee aan hongersnood,
ter wille van hul godsdienstige oortuigings.
Eenders raak Johannes en Jakobus so kwaad dat hulle die Samaritane wil doodmaak.
Vandag is daar baie voorbeelde van sulke tipe onverdraagsaamheid.
Kerke wat groot doop,
wil met alle mag babas verhoed om klein gedoop te word,
al breek dit families op.
Eenders probeer klein-doop kerke met alle geweld mense weerhou
om herdoop te word.
Ons waarsku mekaar om weg te bly van ander kerke,
en gaan so ver om mense af te skryf of om hulle te onteien.
Let op wat Jesus doen!
Hy bestraf sy dissipels!
Nie die Samaritane nie!
Hoekom?
Want dit is nie Sy dissipels se taak om God te verdedig nie.
God het nie verdediging nodig nie.
Dit is Sy dissipels se taak om God te verteenwoordig -
en dit kan nooit deur haat of geweld gedoen word nie!
Ashton