"Siekes moet julle gesond maak,
dooies moet julle opwek,
melaatses moet julle reinig,
demone moet julle uitdryf.
Verniet het julle ontvang,
verniet moet julle gee!"
(Mat 10:8)
Antieke mense het selde onderskei
tussen "dokters" en "towenaars".
Towenaars sou van dorp na dorp reis,
hul middele verkoop
en mense van ongeneesbare siektes "genees".
Dit was 'n heel winsgewende bedryf,
daarom dat Simon die towenaar geld gehad het
om Filippus te probeer omkoop (Hand 8:18).
Hoewel die towenaars voorgegee het om mense te help,
om hulle lewens te verbeter,
het hulle eintlik mense uitgebuit.
Al word hulle gesond,
is die mense so diep in die skuld dat hulle nie kos kan koop nie.
Jesus wil nie hê sy dissipels moet so wees nie.
Alles wat hulle ontvang het,
moet hulle vrylik gee.
Daar moet geen "betaal-muur" op hulle dienste wees nie.
Dit beteken nie sy dissipels moet sonder vergoeding werk nie.
Net twee verse aan (Mat 10:10) sê Jesus:
"'n arbeider is sy voedsel werd".
Dit beteken wel dat sy dissipels hulself nooit mag verryk
uit die taak wat God vir hulle gee nie.
Arm mense mag nooit 'n las opgelê word nie.
En baie belangrik:
Jesus se dissipels mag nooit 'n reputasie kry as geld-wolwe nie!
Om die Here te dien,
wat 'n voorreg is dit nie?
Elke gawe waarmee ons dit kan doen,
het ons verniet by Hom gekry!
Ons het dit gekry om dit wat krom is in hierdie wêreld,
reguit te trek:
om bedroefstes te troos;
om armes te ondersteun;
om weerloses te beveilig;
om radeloses hoop te gee!
Laat ons laste vir mense ligter maak,
sonder om ander laste op hul skouers te laai!
Ashton