Paasfees het ‘n duidelike boodskap ten opsigte van bekommernis.

Massena, een van Napoleon se generaals,
het met 18 000 soldate ‘n Oostenrykse dorpie omring.
Daar het totale paniek in die dorpie geheers.
Almal het geweet dit is die einde.
Die dorpie sou die volgende oggend vernietig word.
Hulle kon niks daaraan doen nie.
Wat ‘n totale magtelose gevoel.
Almal het eintlik wakker gebly deur die nag weens totale bekommernis.
Vroeg die volgende oggend het die kerkklokke hulle wakker gemaak!

Dit was Paassondag!!
Die predikant wou almal net weer in die moeilike omstandighede herinner
dat Jesus Christus opgestaan het en die dood oorwin het!
Die klokke het hulle laat aanbid,
en vir ‘n paar oomblikke ‘n ander perspektief laat beleef van die werklikheid.

Twee ure later het ‘n man al skreeuende op ‘n perd die dorp binnegejaag.
“Hulle is weg! Die soldate is weg!”
‘n Wonder het gebeur.
Met die gelui van die kerkklokke het generaal Massena gedink die Oostenrykse soldate,
wat op pad was daarheen, het aangekom!
Onder die Paasklokke se gelui het hulle gevlug!

Die predikant het die oggend sy Paaspreek begin met die woorde:
“God kan verseker altyd vertrou word!”
Jesus se oorwinning oor die dood is die bewys.
God se liefde koel nie sommer op ‘n dag af,
en Hy laat jou oor aan jou eie lot nie!
Daarom hoef ons nie te bekommer oor God se betrokkenheid by ons nie.
Hy is in alle omstandighede daar!
Ook in die heel moeilikste omstandighede waar jy Hom kan miskyk.
Hy laat jou nooit in die steek nie.

“Die hele wêreld is vol van die Here se troue liefde!” Psalm 33:5.
Inderdaad!
Dit is die Paasboodskap!

Ernest