"Maar wees vriendelik
en vol ontferming teenoor mekaar;
vergeef mekaar
soos God ook in Christus julle vergewe het"
(Efes 4:32)
Vriendelikheid is een van die maklikste dinge om te vervals.
'n Breë glimlag en mooi woorde,
en almal dink jy is vriendelik.
Verkoopsmense gebruik dit om meer van hul ware te verkoop.
Politici gebruik dit om meer stemme te verwerf.
Vir 'n Christen is dit egter nie 'n instrument
om meer gewild te wees onder mense nie.
In die Grieks van die bostaande vers kry ons 'n woordspeling.
Die woord vir vriendelik is "Chrestos".
Ons moet "Chrestos" wees omdat "Christus" dit eerste was.
Om vriendelik te wees,
beteken om soos Christus teenoor mekaar op te tree!
In die antieke wêreld het dit beteken om hulpvaardig te wees,
om hulle as een van die "in-groep" te behandel,
eerder as 'n buitestaander.
Dit het beteken jy help hulle om hul laste te dra.
Dit het beteken jy maak die lewe vir hulle meer draagbaar.
Soos met ons liefde,
mag ons vriendelikheid nooit geveins wees nie.
Dit mag nooit 'n toneelspel wees nie!
Laat ons vriendelikheid daarom nie beperk wees
tot 'n glimlag
of sagte woorde
of mooi boodskappe of WhatsApp nie.
Laat ons veel eerder buitestanders behandel
asof hulle deel is van ons in-groep.
Laat ons die laste raaksien wat ander moet dra,
en hulle help dra daaraan.
Laat ons ander se lewe meer draagbaar maak.
Want Christus,
het dit eerste vir ons gedoen.
"Dra mekaar se laste,
en vervul so die wet van Christus"
(Gal 6:2)
Ashton