Op berge en in dale
"Waar sou ek heengaan van u Gees
en waarheen vlug van u aangesig?
Klim ek op na die hemel,
U is daar;
en maak ek die doderyk my bed,
kyk, U is daar!
Neem ek die vleuels van die dageraad,
gaan ek by die uiteinde van die see woon,
ook daar sou u hand my lei
en u regterhand my vashou."
(Psalm 139:7-10)
Antieke godsdienste het 'n god vir elke soort ding gehad:
'n god van liefde,
'n god van oorlog,
'n god van die hemel,
'n god van die doderyk,
'n god van berge,
'n god van dale.
Elkeen van die gode moes apart gelukkig gehou word,
elkeen het 'n ander verhouding met die mensdom gehad.
Nie so met ons God nie!
Dawid bely: maak nie saak waar hy gekyk het nie,
maak nie saak wat hy ervaar het nie,
hy het God daar gevind.
Hy ervaar God toe hy die reus verslaan.
Hy ervaar God toe Saul teen hom draai en hy moes vlug.
Hy ervaar God toe hy koning word en baie kinders kry.
Hy ervaar God toe sy eie seun hom wil doodmaak.
Baie mense maak die fout om te dink dat God net teenwoordig is in die goeie.
Hulle dink God is afwesig wanneer dit sleg gaan.
Hy het Sy seën onttrek, omdat Hy kwaad is.
Het die duiwel nou mag oor ons lewe!?
Nee!
Dieselfde God wat by ons is
wanneer ons bevordering kry,
is by ons wanneer ons ons werk verloor.
Dieselfde God wat by ons is
wanneer ons veilig en vol vertroue is,
is by ons wanneer ons weerloos en bang is.
Dieselfde God wat by ons is,
met die geboorte van 'n kind,
is by ons,
met die afsterwe van 'n geliefde.
Waar ons gedagtes swewe
of styg, ook daar is God;
omlaag en hoog verhewe -
ja, oral is my God!
Ashton