Oorgang na 'n nuwe jaar!

Geliefde medegelowige.
Toe God die son en die maan en die sterre
gemaak het,
het Hy gesê:
"Hulle moet ook as tekens dien
om seisoene, dae en jare aan te dui."
(Gen 1:14)

Die oorgang van een jaar na 'n ander,
is iets wat God bedoel het.
'n Ritme, waarvolgens ons kan leef!

Daarom aan die einde van elke jaar,
berei ons voor vir hierdie oorgang.

Ons dink terug aan die jaar wat verby is:
al die leed wat ons beleef het.
Geliefdes wat ons verloor het.
Ons gesondheid wat agteruit gegaan het.
Verhoudings wat skade gely het.
Wat nog te sê van finansiële skade,
en die gemors waarin die wêreld is!?

Maar dan sê ons saam met die klaaglied:
"Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut.
U trou is groot."
(Kla 3:21-23)

Maar die jaar wat verby is, het ook groot vreugdes gebring:
Ons het nuwe familie, kinders en kleinkinders bygekry.
Ons het nuwe verhoudings gevorm!
Met die hulp van kunsmatige intelligensie
het ons mediese kennis met spronge verbeter!

Daarom het ons rede om die Here te loof!

Jakobus sê:
"Moenie julleself mislei nie,
my liewe broers.
Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo."
(Jak 1:16)

En oor hierdie goeie nuus sê Paulus:
“Verbly julle in die Here, ek herhaal verbly julle”
(Fil 4:4)

Maar die jaar is verby.
Dit is tyd om 'n oorgang te maak.
Reg te maak vir 'n nuwe rondte

Paulus sê:
"Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie.
Maar een ding doen ek:
ek maak my los van wat agter is
en strek my uit na wat voor is.
Ek span my in om by die wenstreep te kom,
sodat ek die hemelse prys kan behaal
waartoe God my geroep het
in Christus Jesus."

Ashton