"Kom nou, julle wat sê:
Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan
en ’n jaar lank daar bly;
ons sal sake doen en geld maak.
Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie!
Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.
Julle moet eerder sê:
As die Here wil,
sal ons lewe en sal ons dit of dat doen."
(Jak 4:13-15)

Kom ons wees nou eerlik:
Nuwejaarsvoornemens werk nie!
Dit hou hoogstens vir 'n paar weke,
voor ons weer terugval in ons ou gewoontes.

Die sielkundige Peter Gollwitzer
het in die 90's ondersoek ingestel
om vas te stel waarom voornemens so onsuksesvol is.

Sy gevolgtrekking?
Mense kan nie die toekoms voorspel nie!
Ons voornemens is eintlik net die toekoms wat ons graag wil hê.
En as dinge nie gebeur soos ons dit wil hê nie,
gee weet ons nie hoe om op te tree nie,
en dan gee ons moed op.

Hy het ook gevind wat wel werk.
Hy noem dit: "Implementation Intentions"

Dit werk so:
'n Persoon stel nie doelwitte nie,
maar sê hoe hy sal reageer gegewe sekere situasies.
"Indien X, sal ek Y".
"Indien iemand vir my 'n koekie aanbied,
sal ek 'nee dankie' sê"
"Indien iemand buite hulle beurt voor my inry,
sal ek net stilbly en glimlag"

Die Bybel sê dit keer op keer:
Ons het nie beheer oor die toekoms nie,
en ons kan dit nie voorspel nie.

Ons weet nie wat die jaar wat voorlê vir ons inhou nie.
Ons kan ook nie vir alles beplan nie.

Maar ons kan onsself wel voorneem:
"Indien die Here dit wil,
sal ek gehoorsaam wees".
"Indien ek konflik sien,
sal ek 'n vredemaker wees"
"Indien ek hartseer sien,
sal ek 'n trooster wees".
"Indien my kragte opraak,
sal ek bid".

Dit is die voornemens wat ons hierdie jaar moet maak!

Ashton