Paasfees beklemtoon:
God se genade is vir jou, net soos jy is!
Ons glo so maklik in ons verhouding met die Here
dat ons iets moet doen, om iets te ontvang.
Nee! God se genade is vir jou, net soos jy is!
“…nou spreek God ons in sy onverdiende goedheid vry
op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het…
sonder verdienste van ons kant.” Romeine 3:23.
Paasfees het ons weer die heerlikheid van sy verlossingsdaad laat hoor.
Ons omhels opnuut die onvoorwaardelike liefde van die Here vir ons.
Ons wil nie hierdie waarheid weer iewers langs die pad vergeet nie.
Moenie dat iets gebeur wat jou laat wonder of God jou liefhet nie!
Moenie dat jou bewustheid van jou gebrokenheid jou weghou van die Here nie!
Juis daarvoor het Hy gekom, en het jy nou vrymoedigheid voor Hom.
Die Here se liefde is genadiglik nie gekoppel aan ons sondeloosheid,
of goedvoel-emosies nie.
Ons eindbestemming word genadiglik nie bepaal deur ons
van-koers-af lewens nie.
Kniel elke dag na Paasfees steeds by die kruis van die Here.
Onthou dan:
Ek is syne!
Nie omdat ek volmaak en perfek is nie,
maar omdat Hy my gekies het!
Ernest