Hoe leef ons na die Paasgebeure?

Paulus praat hieroor met die Korintiërs in 1 Korintiërs 15:31-34:
“My liewe broers en susters,
dagin en daguit leef ek in die skaduwee van die dood.
Daarvan kan julle net so sekesr wees as dat ek trots is op wat Christus Jesus ,
ons Here, vir julle beteken en gedoen het.
As daar niks anderkant die dood vir ons wag nie,
moet ‘n mens mos eerder doen wat die spreekwoord sê:
“Laat ons eet en drink en vrolik wees, want more is ons dood.”

“Moenie julle met ‘n slap riem laat vang deur mense wat so praat nie.
Onthou, as jy heeltyd na sulke mense luister, begin jy dit later self glo.
Ruk julle reg en hou op om verkeerde dinge te doen.
Julle behoort julle te skaam,
dat party van julle regtig geen idee het van wie God is,
wat Hy kan doen,
en wat Hy van julle verwag nie.”

Dit wil voorkom asof baie van ons onsself regtig met ‘n slap riem laat vang!
Baie van ons leef soos ‘n klomp verloorders.
Verloorders wat nie besef die oorwinning is behaal,
en die lewe gaan tot in ewigheid aan nie!
Dat Jesus se opstanding alles verander het!
Jou toekoms, hede, en verlede!

Die lewe is meer as eet en drink nou, want môre is ons dood.
Die lewe is soveel meer as eet en drink en net daarvan vrolik wees.
As dit genoeg en al was om ons vreugde te gee, wat ‘n patetiese lewe?!
Maar baie gelowiges leef asof dit so is, vandag nog!
Dit is asof ons geen uitsig het op ons toekoms saam met God nie!

Geen wonder Paulus spreek hulle, en ons, so hard aan nie.
Moenie jou met ‘n slap riem laat vang nie.
Die lewe is selfs baie meer as wat anderkant die dood vir ons wag.
Dit is lewe hier en nou!
Voluit lewe vir die Here!
Leef nou reeds die lewe in oorvloed wat jy reeds het,
en wat die Here vir jou bedoel!
Ons moet met Paulus saamstem oor die manier hoe ons soms lewe.
Dit is regtig asof ons geen idee het van wat God met ons lewe bedoel nie.
Ons het regtig geen idee van Wie God is,
wat Hy kan doen, en wat Hy van ons verwag nie!

Onthou wat Christus Jesus vir jou beteken en gedoen het,
en leef daagliks oorwinnend daaruit!

Ernest