In Matteus 22:18-21 is Jesus in ‘n twisgesprek met die Fariseërs:
“Julle skynheiliges”, sê Jesus, “julle probeer My uitvang!
Wys vir My die Romeinse belastingmunt.”
Hulle bring toe vir Hom die muntstuk.
“Wie se kop en titel is hierop afgedruk?”, vra Hy vir hulle.
Hulle antwoord: “Die keiser s’n.”
“Wel”, sê Hy toe, “gee dan aan die keiser wat hom toekom.”
Ons weet die antwoord gaan verder!
“Gee dan aan die keiser wat hom toekom.
Maar gee ook aan God alles wat Hóm toekom.”
Die keiser se deel is eintlik die maklike deel van die antwoord.
Maar wat is God se deel?
Ons as Jesusvolgelinge dra daagliks die beeld van God,
daarom moet ons alles vir God gee.
Luciano Pavarotti se pa het hom bekendgestel aan sang.
Hy het hom aangemoedig en gehelp om sy stem te ontwikkel.
Later het Pavarotti by ‘n onderwyskollege gaan leer.
By sy gradeplegtigheid het hy vir sy pa gevra:
“Moet ek ‘n sanger of ‘n onderwyser word?”
Sy pa het geantwoord:
“Luciano, as jy op twee stoele probeer sit,
sal jy tussendeur val.
Kies in die lewe een stoel.”
Wat jy ookal kies, “commitment” bly die sleutel.
As jy die Here kies is dit wat jy vir Hom gee 100%!
Dit is wat dit beteken om aan God alles te gee wat Hom toekom!
God verdien jou 100%, niks minder nie!
Ernest