“Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer,
nog ‘n bietjie hande vou en bly lê,
en daar oorval die armoede jou soos ‘n rower,
daar oorrompel die gebrek jou soos ‘n inbreker.”
Spreuke 6:10-11.

Toewyding, volharding en erns met ons werk,
is kenmerke van volwasse menswees.
Dit is ook kenmerke van volwasse Christenskap.
Jy werk só in dit waarmee jy besig is,
al is dit nie wat jy jou lewe lank wil doen nie.
Selfs ons kleinste take is skadubeelde van die groot dinge.
Dit waarmee God ons vertrou, en wat Hy aan ons toevertrou.
Geestelik volwasse mense werk in die Koninkryk van God in die wêreld,
met die wete dat hulle nooit klaarmaak nie.
Wat ek ookal doen, doen ek vir die Here!
Werk en leef met die wete,
dat die kwaliteit van ons werk inderdaad vir God saakmaak!
Maak nie saak waste werk jy doen nie.

Die handevou keuse raak nie net die oes op die saailand nie.
Dit raak nie net produksie en die mark nie.
Om te kies vir nog slaap en sluimer,
terwyl God my buite my gemaksone aan die werk wil sien,
haal my uit rat uit vir dit wat God, deur my, in sy koninkryk wil doen.
Moenie rustigheid verwar met luiheid nie.
Slaap, sluimer, hande vou, en bly lê,
kan beteken dat jy uit rat is ten opsigte van God se wil en doel met jou!
Rus wanneer jy moet rus.
En werk wanneer jy moet werk.
Albei is in God se wil, en gawes van God.
Moenie oorval word deur dit wat buite God se wil is nie…..

Ernest