Op Werkersdag dink ons nogal oor ons arbeid.
Prediker 11:6 sê:
“Saai jou saad in die môre,
gaan in die laatmiddag daarmee voort.
Jy weet nie watter van die twee sal ‘n oes lewer nie,
en of altwee ewe goed sal wees nie.”
Hoe slegter dinge rondom ons gaan, hoe makliker verloor ons moed.
Mense is in ‘n oorlewingstryd. Geld is skaars.
Mense verloor motivering om die saaisak te neem en te gaan saai.
Prediker het ook die tekens van die tye gelees en sien dat dit swaar gaan.
Maar hy moedig ons aan dat ons saad vroeg in die môre moet saai.
Vroeg in die môre dui op geleenthede.
Gryp die geleenthede aan wat op jou pad kom!
Oomblikke van lig en inspirasie.
Onherhaalbare geleenthede wat God gee.
Geleenthede wat verbygaan, en nie ingehaal kan word nie.
Skep saad uit die saaisak en saai!
Die oomblikke waarin God sê: “Nou!”
Gryp dit met die geloof aan, dat Hy die opbrengs sal gee!
Saai ook laat in die middag!
“Gaan in die laatmiddag daarmee voort”, sê die teks.
Teen die laatmiddag raak jy maklik moeg en sak uit.
Maar wat jy in die laatmiddag saai,
kan net so ‘n goeie oes gee as die oggend se saai, of selfs beter!
Saai met dieselfde entoesiasme, verwagting en toewyding as in die oggend.
Onthou dat dit waarmee jy besig is, enige tyd ewe veel verskil kan maak!
Deurbrake kom selfs in die vroeë oggendure se wakkerlê.
Moet nooit sinies, lusteloos, gelate, ledig en sonder visie raak in jou werk nie!
Oggend en laatmiddag het ewe veel potensiaal!
Geniet jou werk met toesiasme, verwagting en toewyding.
Ernest