Augustinus het gesê dat veral twee dinge die menslike gees doodmaak:
Wanhoop en valse hoop….

Hoop-loosheid pers die lewe uit jou uit.
Dit maak jou stadig maar seker dood.
Jy haal asem, maar jy lewe nie meer nie.
Sonder hoop het jy geen uitsig nie.
Sonder hoop tuimel al die steiers van jou menswees inmekaar.
Dan is daar geen sin en betekenis in wat jy doen nie.
Iemand het gesê wanhoop is om die hel vroegtydig in jou lewe in te trek!
Dit is om te sê dat dit in elk geval is waar jy gaan eindig.
Dit is waar die wêreld gaan eindig.
Daar is geen sin meer nie.

Wat veroorsaak wanhoop?
Daar is nie klinkklare antwoorde nie.
Wat ons wel weet, is dat wanhoop jou nie sommer net oorval nie.
Jy raak nie oornag sinies nie.

Thomas van Aquina het gesê:
“Wanhoop is die mees perfekte sonde van alle sondes.
En die meeste mense wat in die hel eindig,
eindig nie daar vanweë ander sondes nie,
maar vanweë wanhoop en sinisme.
Hulle het die hoop op God totaal prysgegee.
Wat wanhoop so perfek maak,
is dat ‘n mens dit bemeester as jy net lank genoeg daaraan aandag gee,
en hard genoeg daaraan oefen.”

Kies vir hoop!
Gaan sit op God se skoot, in hierdie moeilike tye in jou lewe.
Waag dit om op sy skoot te klim.
Gesels met Hom oor hoe bang en onseker jy is.

Die skrywer van die Hebreërbrief sê in 13:8
dat die Here gister en vandag dieselfde is,
en tot in ewigheid!
Johannes groet die lesers van Openbaring met hierdie woorde:
“Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom….
Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!
Amen!”

Waag om op God se skoot te klim.
Druk jou oor teen sy bors.
Hoor sy hart klop vir jou.

Ernest