Herfstyd….dinktyd

Herfs het die manier om jou te laat dink.
Jy dink aan die gang van seisoene, en die lewe.
Kyk net na die bome, die herfsblare.
Sigbare seisoenverandering.

Kyk net weer ‘n slag na die groot ou boom, êrens naby jou huis.
Dit het alles so klein begin.
‘n Saadjie wat suurstof opneem en water opsuig.
Dit rek en groei en neem ook lig op.
Dit word ‘n stam, met sytakke, en ‘n welige bos blare.
Dit word mettertyd ‘n reus wat gesag afdwing.
Net so oud, of baie baie ouer as jy.
En in die herfs woel die wind liggies deur die blare.
Dit warrel en dwarrel af grond toe.
Binnekort sal die reus kaalgestroop in die winter staan.
Dieselfde blare sal nooit weer terugkeer na die boom nie.
Uiteindelik sal die boom self ook eendag val, en bly lê…..

Dink oor jou lewe.
Gaan staan ‘n bietjie stil, daar by die ou reus van ‘n boom.
Hy groei jaar na jaar boontoe, vorentoe, weg van die stam af.
Ons is ook bedoel om Boontoe te groei, let op, Boontoe.
Die Heilige Gees beweeg soos ‘n sagte wind deur jou lewe.
Laat die ou blare in jou lewe afval.
Dit waarmee jy moet breek.
Dit waaraan jy vasklou, maar wat die lewe by jou steel.
Kaalgestroop van die sinnelose, en oue in jou lewe,
maak die Gees jou gereed vir die lente wat sal kom.
Die nuwe lewe wat die Here deur jou wil laat kom!

“Dit gaan goed met die mens…..
wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra,
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.” Psalm 1:1-3.

Ernest