“Dit gaan regtig nie in God se koninkryk oor wat mens eet of drink nie.
Allermins! Nee, daar waar God heers, is dit die belangrikste dat sondaars,
op grond van sy ongelooflike goedheid, van hulle sondes vrygespreek word.
Daar gaan dit oor vrede met God en oor blydskap omdat die Heilige Gees
met sy groot krag aanwesig is.
Almal wat Christus dien, maak God se hart baie bly.
Boonop het ander mense ook groot respek vir hulle.
Kom ons doen ons uiterste bes om in vrede met mekaar te leef.
Kom ons help om mekaar se geloof sterk te maak.”
Hierdie wonderlike woorde lees ons in Romeine 14:17-19.
Paulus se kwessie is hier met die Christen gelowiges,
wat nog steeds soos die Jode dink.
Hulle dink dat godsdiens gaan oor moets en moenies.
Die Christelike geloof gaan verseker nie daaroor nie!
Dit inhibeer ons verhouding met God ongelooflik,
dat ons bly vasklou aan “moets en moenies” in ons verhouding met Hom.
Ons fokus so baie op reg of verkeerd, dat ons die liefdesverhouding met Hom misloop!
Die Jode wat in Paulus se tyd Christene geword het,
het ‘n probleem gehad met hierdie soort vryheid.
Daarom sê Paulus dit gaan nie oor wat jy eet of drink nie.
Dit gaan nie oor moets en moenies nie.
Christelike geloof bestaan basies uit vergifnis, vrede en vreugde!
Lees dit weer: Vergifnis, vrede en vreugde!
Hierdie geloof maak jou vry!
Natuurlik nie om te doen net wat jy wil nie.
Maar vry om te doen wat Jesus wil!
Om in Jesus se voetspore te leef!
Daarom moet ons mekaar help, sê Paulus.
Hy sê in die laaste deel van die teks:
“Kom ons help om mekaar se geloof sterk te maak.”
Kom ons hou op om mekaar te beoordeel, of te veroordeel,
op grond van moets en moenies.
Want in die Christelike geloof gaan dit oor vrede met God,
en oor blydskap, omdat die Heilige Gees met sy groot krag aanwesig is!
Ons dien nie almal die Here op presies dieselfde manier nie.
Ons het elkeen ‘n unieke verhouding met die Here.
Maar, sê Paulus, almal wat Christus dien,
maak God se hart baie bly!
Kom ons help om mekaar se geloof sterk te maak!
Ernest