In 1 Korintiërs 2:14 lees ons:
“Die mens wat nie die Gees van God het nie,
aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie.”
Dikwels wil ons dinge verklaar in terme van menslike logika,
opleiding, kultuur, kennis van regering, besigheidsbeginsels en so meer…
Hierdie dinge help nie om die boodskap van Christus,
en die Woord verstaanbaar te maak nie.
Slegs wanneer ons onvoorwaardelik glo, onder leiding van die Heilige Gees,
ons vertroue volkome op die Here plaas,
sal die lig van die Evangelie in ons harte en verstand deurbreek.
William Pitt, een van die bekwaamste staatsmanne in die geskiedenis van Engeland,
het op 24 jarige leeftyd eerste minister in Engeland geword!
William Wilberforce, ‘n toegewyde Christen,
het Pitt omgepraat om ‘n byeenkoms by te woon in die Laerhuis.
‘n Lid van die Laerhuis het ‘n kragtige boodskap en uiteensetting van die Evangelie gegee.
Na die byeenkoms het Wilberforce vir Pitt gevra wat hy van die boodskap gedink het.
Pitt het gesê dat hy deurgaans aandagtig geluister het,
maar dat hy moet bely dat hy dit gladnie verstaan nie!
Pitt was hoogs geletterd, ‘n kenner van regering, kon uiters logies redeneer,
en was opreg om te wil luister, en oortuigbaar te wees.
En tóg….
Die wonderwerk van die proses van wedergeboorte maak oë en harte en verstand oop!
Die Heilige Gees oortuig in terme van die waarhede van die Woord van God.
Die Heilige Gees gee lig en lewe.
Dan word die Evangelie en die Woord van God ook verstaanbaar.
Ons kan nie die waarhede van die Woord verstaan, óf leef, sonder die Heilige Gees nie.
Wanneer ons ons harte vir die Heilige Gees oopmaak,
Maak Hy ons verstand vir God se Woord oop.
En dan alleen kan ons waarlik leéf!
Onder leiding van die Gees!
Ernest