Dit wat Christus vir ons aan die kruis gedoen het,
bewerk die Heilige Gees nou hier op aarde in ons.
Ons is deur die Gees van God beseël (Ef.1:13), en bestem deur God,
“om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.” Rom. 8:29.
Maar dit neem tyd.
Stadig maar seker lei die Gees ons om geestelik volwasse te word.
Ons transformasie neem ons hele lewe, en baie geduld.
Dit sal nie voltooi word voordat ons in die teenwoordigheid van God ingaan nie.

‘n Japannese keiser het aan ‘n kunstenaar die oprdag gegee om vir hom ‘n voël te skilder.
Na ‘n paar jaar is die skildery steeds nie afgelewer nie.
Die keiser het ongeduldig geraak en by die kunstenaar gaan navraag doen.
In plaas van verskonings het die kunstenaar dadelik die voël geskilder.
Dit was ‘n meesterstuk.
Die keiser wou weet hoekom dit so lank geneem het om te begin?
Die skilder het aan hom tekeninge gewys wat hy gemaak het.
Tekeninge van vlerke, pote, vere, koppe, en nog meer…
Hy het verduidelik dat hy nie ‘n meesterstuk kon maak
sonder baie navorsing en voorbereiding nie.

Ons is as Christene ook in ‘n sekere sin soos “meesterstukke” van God.
Die “kunstenaar” is die Heilige Gees.
Die dag kom wanneer ons soos Jesus sal wees,
“so volmaak en volwasse soos Christus”, sê Efesiërs 4:13.
Alles deur die werk van die Heilige Gees.
Die Gees weet presies waarheen Hy met ons op pad is.
Maar ons weerstand en eiewysheid laat dit lewenslank neem.

Efesiërs 2:10 sê “In Christus Jesus het Hy ons geskep,
om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”
Daarvoor is ons geskep.
Daardie punt sal die Heilige Gees met ons bereik!

Laat die Gees jou transformeer!!
Meer en meer!!

Ernest