Ons kan baie maklik daarin verval om net dagstukkies oor die Woord van God te lees,
in plaas van om die Woord van God self te lees.
Waak daarteen!
Daar is soveel geestelike literatuur en dagstukkies wat ons lees.
Ons is as’t ware wyd belese, maar ons lees nie die Woord van God self nie!

1 Tessalonisense 1:5 sê:
“Die evangelie wat ons aan julle verkondig het,
het nie bloot met woorde tot julle gekom nie,
maar ook met krag.”
Die Heilige Gees werk inderdaad kragtig deur die Woord van God!

Deur al die eeue lees mense die Woord van God.
Hulle neem die waarhede van die Woord van God saam met hulle.
Hulle leef dit uit in hulle lewe.
Hulle verkondig dit in die openbaar, en ook in die geheim.
En oral skiet die evangelie wortel en groei!
God se Woord kom met krag en bring redding aan mense.

Henry van Dyke beskryf dit treffend.
Hoe die Woord, gebore in die Ooste, en in ‘n Oosterse kleed,
met Oosterse beelde en, die hele wêreld betreë.
En oral oor “vind” dit kinders van God.
Dit kommunikeer in alle verskillende tale, en kulture,
en raak die harte van mense.
Dit kom in die paleise van konings,
en vertel aan hulle dat hulle dienaars van die Allerhoogste moet wees.
Maar dit gaan ook na die eenvoudigste houthuisies,
en verseker die minstes van hierdie wêreld dat hulle kinders van God is.

Die Bybel maak ‘n verskil in die lewe van die wat dit lees,
dit oordink, dit ter harte neem, en dit gaan leef.

God wil persoonlik met jou gesels.
Deur sy Woord.
Lees dit….

Ernest