Soms word ongewone vereistes gestel ten opsigte van identiteit.
Gewoonlik word ons gevra om te glimlag voordat ‘n foto geneem word.
Nie as jy aansoek doen vir ‘n Schengen-Visa nie!
Dan mag jy nie glimlag vir die paspoortfoto nie.
En hulle is baie streng hieroor.
As gevolg van die baie korrupsie rondom identiteit,
word ‘n “nie-glimlag” beleid gevolg.
Die tegnologie kan die gesig dan makliker herken ten opsigte van die sisteem.
Die rekenaar sisteem kan makliker sê of die foto van die persoon al bestaan of nie.
Die sisteem werk met neutrale gesigsuitdrukkings.
Gelukkig word Christene nie herken aan neutrale gesigsuitdrukkings of -optrede nie.
Jesus het ‘n duidelike aanbeveling gegee hoe Christene herken kan word.
Hy sê in Johannes 13:35 vir hulle:
“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van my is.”
Die maniere hoe ons mekaar kan liefhê en dit demonstreer is natuurlik onbeperk.
Bemoediging per sms, ‘n oproep, ‘n beker water, ‘n bord kos, warm klere,
‘n besoek, ‘n liefdevolle vermaning, opregte luister, en omgee, ‘n opregte groet, en glimlag….
Kan ander mense ons identiteit onderskei as Christen.
Dissipel van die lewende Here, kind van die Vader-God.
Hoe neutraal is jou bestaan en jou optrede teenoor ander mense?
Of hoe duidelik onderskei jou liefde vir ander mense,
dat jy inderdaad ‘n dissipel van die Here is?!
Vreugde en liefde wat uit jou uitstraal?
Of ‘n “nie-glimlag” beleid en optrede?
Ernest