“Julle het gehoor dat daar ‘n antichrist kom;
en daar is nou reeds baie antichriste.
Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is.” 1 Joh. 2:18.

Die apostel Johannes wil die gelowiges beskerm teen die leuen,
misleiding en bygeloof.
Hy verwys na valse Christene en predikers.
Een van die tekens wat wys op die laaste dae,
is dat so baie antichristene na vore sal kom.
Antichristene is persone wat beweer dat hulle God se mag en outoriteit besit.
Hulle verwerp ook Jesus en sy lering.

FBI-agente in Amerika leer tellers in banke
om ware en valse note van mekaar te onderskei.
Hulle toon beide valse en ware note aan hulle,
en wys op die verskille, eerder as die ooreenkomste.

So wys Johannes ook hier op drie kenmerke van valse leraars,
en hulle verskille met ware leraars.
Valse leraars skei hulle af van die gemeenskap van gelowiges (vers 19).
Valse leraars ontken dat Jesus die Messias is (vers 22).
Valse leraars lei gelowiges weg van Jesus af (vers 26).

Dan gee Johannes raad hoe gelowiges hulself teen die antichrist kan beskerm:
Vertrou op die inwoning van die Heilige Gees.
Ken die waarheid van die Woord van God.
Leef in gemeenskap met Jesus Christus.

Onthou dat die duiwel, die vader van die leuen,
altyd ‘n paar korreltjies waarheid by die leuen voeg, om jou te mislei!
Fokus op die Waarheid, Jesus Christus!
Leef in gemeenskap met Hom!

Ernest