Inflasie tref ons begrotings kop aan kop.
Jou motor is elke volgende jaar, duisende minder werd.
Jou geld word minder en minder deur inflasie.
Waardevermindering tref ons op so baie gebiede.
Wel, hier is goeie nuus:
Waardevermeerdering!
Waardevermeerdering gebeur met God se mense.
2 Korintiërs 4:16 sê al is ons uiterlik besig om te vergaan,
nogtans word ons innerlik van dag tot dag vernuwe.
God se trou en genade is elke dag vir ons nuut!
Dit raak nooit tweedehands nie.
Dit is nie onderwerp aan waardevermindering nie.
Elkeen van ons is vir God ‘n kosbare skat.
God vernuwe ons deurlopend.
Hoe doen Hy dit?
Deur die Heilige Gees.
God open ons geestesoë om die Onsienlike te sien.
Paulus beskryf dit in verse 16-18.
Ons word al hoe meer bewus van die heerlikheid van die Here,
in ons, en oral rondom ons.
My lewe se waarde neem nie af soos ek ouer word nie.
Ons waarde hang nie af van ons nuttigheid vir ander nie.
Ons waarde hang ook nie af van die wêreld se waardesisteem nie.
My waarde word in Goddelike terme gemeet!
God self bepaal my waarde.
Goddank!
In Jesus Christus het ons ewigheidswaarde!
Ernest