Spreuke 23:9 sê jy moenie ‘n dwaas probeer reghelp nie.
Hy sal jou verstandige raad met minagting behandel.

Daar is baie mense wat die hele tyd net krag tap.
Hulle herlaai niks of niemand rondom hulle nie.
Hulle dreineer net alles en almal rondom hulle.
Jy kan hulle net eenvoudig nooit tevrede stel nie.
Maak nie saak hoeveel jy vir hulle omgee, of bid,
of hulle besoek, hulle help, of bystaan nie.

Baie families en geloofsgemeenskappe, gemeentes,
word deur sulke mense gevange gehou.
Hulle tap al die energie rondom hulle,
en kry dit reg om deurgaans die aandag op hulle te vestig.
Almal moet na hulle pype dans.
Hul klagtes is deurgaans op agendas.

Ons hoef nie heeltyd ons energie op sulke mense te spandeer nie.
Moenie dat hulle jou manipuleer nie.
Jy hoef nie heeltyd almal tevrede probeer hou nie.
Almal sal ook nie, en hoef ook nie van jou te hou nie…..

Om verhoudings te bou in Jesus se Naam,
is nie om telkens die gewildste persoon te wees nie.
Wees eerlik met mense en leef padlangs met hulle.
Die liefde is nie kleinserig nie.
Dwase wat buite perke optree moet nie jou energie tap nie.

Die vraag is:
Is jy ‘n getuie vir die Here, as jy heeltyd almal tevrede probeer hou?
Die Engelse gesegde sê: “Don’t compromise!”
Jou woorde moet oë oopmaak, en dowes wat nie wil hoor nie, laat hoor.
Natuurlik word jou optrede gekenmerk deur liefde.
Maar opregte liefde is nie maar ‘n treinspoor waaroor almal kan ry nie.
Eerlikheid, opregtheid, en liefde, maak jou vry ten opsigte van ander mense.
Dit maak jou nie hulle slaaf nie.
Kom vry in jou verhoudings met mense!

Ernest