Verhoudings skep soms die gevoel van onsekerheid,
veral vir mense wat alles wil beheer.
Mense wil dikwels in voorspelbare strukture leef.
Hulle vind daarin veiligheid en sekuriteit.
Die werklikheid is dat verhoudings nie so funksioneer nie.
Veral ook nie ons verhouding met God nie.
Ons gebede en al ons pogings tot gehoorsaamheid,
is nie iets waarmee ons God moet probeer oortuig om
ons goedgesind te wees nie.
Wanneer ons dit doen, selfs onbewustelik,
verstaan ons min wat genade is.
God het ons lief ten spyte van onsself.
Hy kies oor en oor om ons Vader te wees.
Hy bewys sy liefde vir ons in Christus.
Al wat Hy van ons vra is om Hom terug lief te hê.
Die hartklop van sy wil is liefde, en nie wette nie.
God gee nie ‘n klomp harde wette aan ons om uit te voer nie.
Hy staan nie reg om bonuspunte of strafpunte te gee nie.
Liefde skep nie vrees nie, maar vryheid.
Hierdie liefde moet ons ook met ander mense deel.
Sy liefde vir ons maak dat ons nie anders kan nie,
as om te wil liefhê, en te wil dien.
Leef uit die liefde van God wat in Hosea 2:18 sê:
“…Ek gaan jou aan My bind deur my weldade,
en My goeie sorg, deur My liefde en My ontferming.”
Ernest