Psalm 1 sê in vers 1 dat dit goed gaan met die mens,
wat nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie.”

Vir baie mense is die Bybel maar net ‘n boek vol losstaande geestelike tekste.
Dit word na willekeur uit verband aangehaal.
Of dit word geïgnoreer indien dit nie kitsantwoorde op vrae gee nie.
So min mense ken daarom regtig God se wil.
Hulle hele lewe lank het hulle vrae oor God se raadsplan.
Om God se stem uit die Bybel te hoor vra tyd,
toewyding, oordenking, en gehoorsaamheid.

George Barna het met navorsing in Amerika bevind dat die gemiddelde
Amerikaanse jongmens op 13 jarige ouderdom dink
dat hulle genoeg van die Bybel weet!
Min mense se Bybelkennis en bybellees-vaardighede neem hierna noemenswaardig toe.
Hy sê die Amerikaanse Christene is hierom
in ‘n greep van onkunde oor die Bybel vasgevang.
Volwassenes teer na jare nog steeds op dit wat hulle
tot op 13 jarige ouderdom geleer het.
In ons eie land het ons dieselfde patroon.

Kom ons omhels weer die Bybel as die geopenbaarde wil van God!
Psalm 1:2 sê dat ons die woord van God dag en nag moet oordink.
Ons moet die Skrif in ons gedagtes plaas,
en dit deur die loop van die dag oordink,
en dit uitleef as die waarheid van God.

Ernest