Ons het dikwels, selfs onbewustelik, ‘n skewe beeld van God.
Dalk is jy ook van kleins af ingeprent om in terme van straf,
skuldgevoelens, en sonde te dink, wanneer jy aan God dink.
Mense het ook vir jou geleer dat jy iets verkeerd moes gedoen het,
as dit nie goed gaan nie,
en dat God nou op een of ander manier daarop reageer.
Dit is ‘n skewe Godsbeeld.

Die Bybel leer dat God naby aan jou is, en vol ontferming!
Kyk net na Johannes 6:35:
“Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee.
Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie,
en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”
Jesus se eie woorde.
Straf is nie God se fokus nie!
God se aard is om ons op te soek,
ons te vergewe, ons terug te dra,
en met ons voor te begin.
Dit is hoekom Jesus Christus na hierdie wêreld gekom het.
God is die God van genade,
en nie die God van straf, en die afskryf van mense nie.
God is naby aan jou, nooit vêr van jou nie.
Meer nog, Hy is deur die Heilige Gees in jou!

In Jesus Christus het God met ‘n reuse reddingsaksie na my toe gekom.
God stel belang of jy Hom ken, of jy sy wil verstaan, en of jy vir Hom leef.
Jesus kom juis om God se mense bymekaar te maak.
Daarom kom Hy in die storms van ons lewens in, hier op aarde.
Hy het nie in die “veilige hawe” van die hemel gebly nie.
Hy verneder Homself tot in die dood aan die kruis.
Juis omdat Hy nie strafgerig is nie,
maar God se genade na ons toe bring!

Jesus kom deel brood uit vir ons groot honger.
Meer nog, Hy kom gee Homself!
Hy is die Brood wat lewe gee.
Wie in Hom en sy liefde en genade glo,
sal ook nooit weer dors kry nie!

Ernest