Met Jesus Christus se geboorte word alreeds gesê Wie Hy is.
Lukas 2:11:
“Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid,
die Verlosser gebore,
Christus die Here.”
Dikwels word kinders met ‘n vreemde Godsbeeld groot.
Veral die beeld van “liewe Jesus”.
Die meeste van ons het daarmee grootgeword.
“Crosby, Stills, Nash & Young”, die bekende musiekgroep,
het ‘n liedjie gesing met die titel:
“Teach Your Children Well”.
Dit is baie goeie raad.
Dink mooi oor die Godsbeeld wat aan kinders oorgedra word,
en stel hulle voor aan die Here op sy regte Name.
Die Naam “liewe Jesus” is nêrens te vind in die Woord van God,
waarin Hy Homself aan ons voorstel nie!
Jesus is gereeld daar.
So ook die Seun van die mens.
Of die Seun van God.
Ook die Messias.
En die Here.
Ook Jesus Christus.
Maar liewe Jesus is nie te vind nie.
Nêrens in die Bybel spreek iemand Hom ook so aan nie.
Hulle noem Hom wel ook “Rabbi”, of “my Heer”,
of “my Here en my God”.
Maar “liewe Jesus”?
Nooit nie.
Nooit het die Here ons geleer om Hom so aan te spreek nie.
Hy het wel gesê ons moet van nou af in sy Naam tot die Vader bid.
Maar ook dit is nie “Liewe Jesus” nie.
Hy is baie spesifiek oor hoe Hy en God aangespreek moet word in gebed.
Baie mense ken “liewe Jesus” as hulle klein is,
maar as hulle volwasse word, glo hulle nie meer in Hom nie.
Hoekom nie?
Wanneer die realiteit van die wêreld hulle tref,
dan was Jesus maar net ‘n kinderverhaal figuur.
Dan was Hy net gekoppel aan sekere morele lessies.
Kom ons gebruik die Name van God,
soos Hy self in die Bybel sê ons moet.
Al sê ons dit met die heel grootste respek en eerbied,
is name soos die “Grootbaas”, of die “Grootman”, of die “Oubaas”,
of “Die Een daarbo”, of “Die Een van die Groot Boek”,
of “liewe Jesus”, of “Here-tjie”,
nie name van God of Christus nie.
Ons kan nie God op byname aanspreek nie,
en ook nie op byname oor Hom praat, of getuig nie.
Elke naam vir God, of Christus, of die Heilige Gees,
wat nie deur God self in sy Woord vir ons gegee word nie,
is ‘n bynaam vir God.
Kom ons leer mense, en veral ons kinders,
reg uit die Woord van God, oor die Name van God.
Ernest