Die Here Jesus het Tomas bereik en oortuig,
deur ‘n persoonlike verhouding.
Wanneer Tomas, na die opstanding van die Here,
in die kring inkom waar hulle bymekaar is,
dan praat die Here vanuit hulle verhouding met mekaar,
en oortuig hom om te bely:
“My Here en my God!” Joh.20:28.

Ons het dikwels die idee ons moet heeltyd onbekeerdes konfronteer,
en daarmee hulle na die Here toe lei.
Ons sien nie-kerklike mense as objekte wat verlore is,
en nie as opregte mense met dieselfde behoeftes en vrae as ons nie.
Ons moenie gedring wees om mense onder druk te plaas,
net om die regte besluit te neem “vir of teen God” nie.

Geloof gaan oor egte verhoudings, nie oor kortstondige konfrontasies nie.
Ons moenie daarop gerig wees om mense met “tref en trap” na die Here toe lei nie.
Genadiglik gebruik die Here ook laasgenoemde metodes van ons.
Maar Hy wil veral deur verhoudings werk.
Dit is veral hoe God se genade na mense toe kom.
Dit is veral hoe God kies om te werk.

Ons moet daar wees vir mense, met agting en respek.
Ons moet ‘n luisterende oor hê.
Ons moenie heeltyd probeer om hulle wat anders as ons dink,
glo, en leef, te verander om soos ons te wees nie.
Dan sal die deur oop bly, omdat hulle liefde en opregtheid by ons ervaar.

Wanneer ons daar is waar God ons wil hê,
met liefde en opregtheid,
dan doen Hy die res!
Ons wil te veel in beheer wees.
Die Here werk immers ten spyte van my,
en nie as gevolg van my nie.

Wees net daar, vir elkeen wat op jou pad kom!

Ernest