Gideon se verhaal laat jou besef dat God regtig met elkeen ‘n plan het.
Hy het ook ‘n plan vir jou, maak nie saak wie of wat jy is nie.
Gideon is nou regtig iemand van wie jy dit die minste verwag,
dat God hom sal roep om ‘n rigter te wees, ‘n leier!

Dit wat jy in ‘n leier sou soek, kry jy nie by Gideon nie.
Hy sê dit ook oor homself in Rigters 6:15:
“Gideon sê vir Hom: “Ekskuus , Meneer,
waarmee sal ek die Israeliete gaan red?
Die familie waaraan ek behoort,
is die armste in die hele Manasse,
en van my pa se kinders het ek die minste aansien.”

Hy kruip weg. Hy is bang.
Gideon is ook glad nie godsdienstig nie.
Maar ‘n engel van die Here gaan haal hom op die dorsvloer.
Toe die engel by hom opdaag en sê die Here is by hom as ‘n dapper held,
is Gideon totaal uit die veld geslaan.
Hy sê selfs hy glo nie in die Here nie,
want die Here het hulle in die steek gelaat.

Maar God laat Hom nie hierdeur van sy plan afsien nie.
Die engel beveel Gideon in die Here se Naam om die volk te bevry!
Gideon is steeds nie oortuig nie.
Waarmee moet hy dit doen?
Hy is die onbelangrikste kind, in die onbenulligste familie in die volk.
Maar God se keuse val op Gideon.
Lank voordat Gideon van God weet, weet God van Gideon,
en alles van sy posisie en familie.
Daarom hoor Gideon in vers 16 dat die lewende God met hom is.

As God vir Gideon kan roep en gebruik,
kan nie een van ons aan ‘n rede dink,
waarom God nie vir elkeen van ons ‘n baie spesifieke plan het,
en ons daarin wil gebruik nie!

Ernest