Wanneer ‘n mens op TV kyk na reddingspogings van mense,
soos met die ontsettende aardbewing in Haiti in Januarie 2010,
dan word jy elke keer herinner aan die toestand van verlorenheid
wat iemand moes beleef , voor hy of sy onder die puin uitgehaal is.
Self nadat alle hoop laat vaar is,
het hulle nog mense lewend onder die puin gekry!
Op TV kon jy dit intens beleef.
Verligting, trane, dankbaarheid,
opregte waardering vir nog ‘n kans op lewe.
Mense wat dag en nag sonder rus geswoeg het,
en hulle eie lewens in gevaar gestel het,
om ander nog ‘n kans op lewe te gee.
Hoe sou jy dit beleef as jy so onder puin vasgeval het?
As jy besef het hulle het hoop opgegee om jou lewend te kry?
Dit is eintlik ondenkbaar as jy nie in so ‘n situasie was nie.
Tog was ons totaal toegeval onder die puin van die sonde.
In Kolossense 1 skryf Paulus aan mense wat die Here Jesus leer ken het,
en wie se lewens dit ook wys.
Hy gebruik ‘n kragtige beeld om te sê wat die Here alles vir hulle gedoen het.
Hy sê in verse 13-14:
“Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk,
en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.
Deur die Seun het ons die verlossing verkry,
die vergewing van sondes.”
Christus het jou onder die puin uit gered!
Hy het ons van die dood teruggebring, vir nog ‘n kans op lewe.
Dink na oor die grootheid van hierdie redding vir jou persoonlik.
Gryp die enigste ware kans op lewe wat jy gekry het aan, en lewe!
Vir die Here!
Ernest