Jou sin in die lewe is nie om vir voorspoed en sukses te lewe nie.
Dit is om vir die Here en sy koninkryk te lewe.
Ons jaag deurgaans na groter, en blinker, en beter.
Omdat ons hard werk, dink ons ook dat ons sekere dinge “verdien”.
Ons jaag “moet-hê-goed” na.

Die Franse filisoof, Denis Diderot,
het in die 18e eeu ‘n klassieke essay geskryf:
“Regrets on parting with my old dressing gown”.

Iemand het vir hom ‘n pragtige bloedrooi kamerjas geskenk gegee.
Dit was natuurlik mode in die 1700’s.
Hy het summier sy ou kamerjas weggegooi.
Hy het nooit opgelet hoe gehawend die ou jas was nie.
Dit het by die res van sy goed gepas.
Hy was nooit ongelukkig met wat hy het nie.
Met min tevrede.
Maar skielik was daar nou ‘n groot kontras tussen sy ou goed, en sy nuwe jas!
Hy kon nie anders as om dit elke keer raak te sien nie.
Al genade was om dit alles een vir een te vervang, totdat alles blinknuut is.
Dit het nou sy missie geword!

Diterot eindig sy essay vol spyt en verwyt,
dat hy die nuwe kamerjas gekry het.
Dit het gemaak dat hy al die uitgawes moes aangaan,
net sodat alles nuut kan lyk, en by sy jas pas.

Vandag verwys die bemarkingswêreld na dié behoefte,
aan nuutheid en gelykheid, as die Diterot-effek.
Die advertensie-wêreld plaas ons konstant onder druk.
Kom kry die nuutste, beste, blinkste.
Genoeg is nooit genoeg nie!
En mense land selfs in ‘n skuldspiraal waaruit hulle nie kom nie.
Ons bly dan onvergenoegd, en afgunstig.

Gryp weer die Woord van die Here aan oor jou lewe.
Matteus 6:19-21:
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie….
Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar….
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Ernest