Wat jou hart van vol is, loop jou lewe van oor.
Ons is so behep met die uiterlike.
Hoe jy lyk, wat jy sê, waar jy woon, of werk, wie jy ken.

Maar die Woord van God praat veral oor die “innerlike mens”.
Reeds in 1 Samuel 16:7 sê die Here:
“Dis nie wat ‘n mens kan sien, wat tel nie.
Mense kyk na iemand se buitekant.
Ek, die Here, kyk na ‘n mens se hart.”

Die binneste van ons hart maak vir God saak.
God ken jou hart en jy kan niks vir Hom wegsteek nie.
As kind van God moet ek pynlik eerlik wees met myself,
juis oor dit wat in my hart aangaan.
Saam met Psalm 139:23 moet ek bid:
“God, kyk of U my kan vertrou.
Toets my gesindheid.
Kyk of ek eerlik is.”

Hoeveel vreugde het jy in jou hart?
Hoe vurig is jy vir die Here?
Is jy regtig sy verteenwoordiger, uit jou hart?
Of speel jy vir die paviljoen?
Wat beleef jy in jou hart in die verkeer?
En teenoor jou kollega en sy bevordering, ten koste van jou?

Die Here het gekom dat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Maar wat in jou hart aangaan bepaal jou lewe.
Spreuke 4:23 sê:
“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan,
want dit bepaal jou hele lewe.”

Ernest