Joan Chittister skryf in haar boek, What Does It Mean To Be Human?,
van ‘n vrou in Indië wat ‘n skerpioen,
wat op ‘n takkie dryf, uit ‘n rivier probeer red.
Die skerpioen bly haar egter op die hand steek.
Weer en weer probeer sy, maar weer en weer kry sy seer.
Mense wat dit sien sê toe vir haar dit is dom om die skerpioen te wil red.
Sy antwoord:
“Net omdat dit die eie aard is van die skerpioen,
om te wil steek in gevaar,
hoef ek nie my eie aard te ontken om dit te wil red nie!”
Baie navolgers van Jesus leef einlik teen hul eie grein en aard in.
Ons leef teen ons nuwe lewe in, en val “by default” terug op die oue.
Ons leef reaktief.
Ons reageer op ‘n soortgelyke reaksie, as wat die lewe na ons toe aangee.
Dit is nie in die aard van ‘n kind van die Here nie.
Daarom sê Galasiërs 6:9:
“Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie,
want as ons nie verslap nie,
sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.”
As ons net gelukkig is wanneer alles rondom ons positief is,
en reaktief is as dinge nie goed gaan nie,
dan het ons slagoffers geword.
Die vrou het geweier om ‘n slagoffer van die skerpioen te word.
Sy het positief bly reageer omdat haar aard is om te red.
Sy het nie reaktief die skerpioen aan sy eie lot oorgelaat nie.
Wanneer ons slagoffers van ons omstandighede word,
dan dikteer ons omstandighede, en ander mense, ons lewens.
Natuurlik het dit ‘n invloed op ons.
Die vrou het dit telkens intens in haar hand gevoel.
Maar die skerpioen se aard het nie haar aard verander nie!
Ons moet uit ons nuwe aard as Christene bly leef en volhard,
en nie “by default” terugval op ons ou lewe,
as dinge sleg skeefloop nie.
Ons is herskep om proaktief te leef.
Nie reaktief nie.
Ons leef uit die Here se goedheid,
en hou self nie op om goed te doen nie.
Ongeag die reaksie wat ons van die wêreld kry.
Gaan leef in jou nuwe aard as nuwe mens!
Nuutgemaak deur die Here!
Ernest