“Ons is burgers van die hemel,
van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.”
Die waarheid staan in Filippense 3:20.
Dit is so, dat wanneer mense al hoe ouer word,
hulle baie meer gereeld met die naderende dood rekening hou.
Hulle dink meer daaroor, en praat selfs meer daaroor.
Richard Rohr skryf in sy “You’re Going To Die”,
dat ons almal eintlik gedurigdeur daarmee rekening moet hou.
Dood en lewe is twee kante van die munt van die lewe.
Die een loop oor in die ander.
Dood agtervolg die lewe.
Maar lewe gaan ook voort, ten spyte van dood.
Ons weet ons gaan nie vir altyd lewe nie.
Daarom die spreekwoord dat iets “doodseker” is.
Ons kan nie ons tentpenne te diep inslaan nie.
Ons is is uiteindelik nie ewige burgers van hierdie wêreld nie.
Ons is hemelse burgers.
Ons het nuwe burgerskap in Christus ontvang.
Ons is nie helde van die dood nie.
Maar ons hoef dit ook nie te vrees nie.
Of ons lewe, en of ons sterf, ons behoort aan die Here.
Daarom het ons geloofsmoed, ook in die aangesig van die dood.
Ons bely en glo dat ons meer as oorwinnaars is,
en niks kan ons van die liefde van God skei nie, sê Rom. 8:37-39.
Ek kan met hoop leef!
Ek kan met hoop sterf!
Ernest