Om te bid is om altyd gelowig te bid!
Twyfelende gebed is soos golwe op die see wat rondmaal.
Daar is nie standvastigheid nie.
Dink mooi daaroor:
Wat help dit om te bid, en dan nie op God te vertrou
ten opsigte van jou gebed nie?!
Jy is dan nie in God geanker nie.
Dan is jou ongeloof net soos die golwe van die see, heen en weer.

God vra vertroue op Hom as jy bid.
Daarom sê Jakobus 1:6:
“ ‘n Mens moet gelowig bid en nie twyfel nie,
want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see,
wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.”
Gebed gaan nooit sonder geloof en vertroue op God nie.
Om net vroom genoeg te wees om te bid help niks.

God vra ‘n spesifieke soort bidder.
Jy moet Hom in geloof opsoek in gebed,
en jy moet glo dat dit wat jy bid ook tot sy eer strek.
Ongeag hoe God jou gebed gaan beantwoord.
Jy moet God ook op sy Woord neem ten opsigte van sy beloftes aan jou,
en Hom in gebed daaraan “herinner”.
Ek kan nie op gevoelens en emosies staatmaak nie,
maar op God se wil en Woord, wanneer ek bid.

Gaan leef dan in die geloof dat God inderdaad jou gebed verhoor.
Doen ook wat jy in gebed van God vra.
Jy is met jou lewe deel van God se verhoring van jou gebed.
Jou geloof en vertroue…..
Maar God werk ook deur jou, ten opsigte van gebedsverhoring.
Wanneer jy vra dat God armes moet help,
dan moet jy ook armes gaan bedien!
Wanneer jy vra dat God mense moet red,
dan moet jy ook die evangelie na mense neem,
met woord en daad.

Bid gelowig!
Bid ook met jou lewe!

Ernest