Ons praat baie daaroor,
hoe ons bestemmings ge-oriënteerd is,
in plaas van reis ge-oriënteerd.
Ons reis “om daar te kom”.
Onthou jy nog die stilhou langs die pad as ons vêr reis?
Die toebroodjies, gekookte eiers, vleisbolletjies,
gaar boerewors, en lekker koffie uit ‘n fles.
Sommer ‘n halfuur of uur langs die pad, by die sementtafel.
Nou stop ons by die “Ultra-City” of “One Stop”,
en jaag dit af, om van die mense en gedrang af weg te kom.
Ons doen dit ook in ons geestelike lewe.
Ons maak te min van die reis, saam met die Here Jesus.
Ons is bestemmings ge-orienteerd,
en dink dit gaan alles daaroor om “in die hemel te kom”.
Jesus nooi mense om Hom letterlik te volg as Hy op aarde is.
Hy deel nie die verlossingsboodskap met hulle,
ter wille van die bestemming nie,
maar sê hulle moet Hom volg.
Saam loop! Saam leef!
Hy sê in Lukas 9:23:
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën,
elke dag sy kruis opneem en my volg.”
Elke dag! Saam met Jesus op reis!
Let op die woorde: “elke dag”.
Hy is ook op pad Jerusalem toe, natuurlik.
Die bestemming van die kruis.
Maar vir meer as drie jaar loop Hy in die lewe,
saam met sy volgelinge op reis.
Eers het die dissipels nie mooi verstaan nie,
wat die Jerusalem bestemming behels nie.
Jesus moes dit minstens drie keer vir hulle uitspel.
Hy is op pad daarheen om gekruisig te word.
Eers na die kruis en opstanding verstaan hulle beter.
Dit is eers asof hulle sy onheilspellende oproep,
om saam met Hom te gaan, nie wil hoor nie.
Enige mens het in daardie tyd weggeskram van die kruis.
Die mees vervloekte dood.
“Neem jou kruis op en volg My……”
Ons word ook genooi om te volg,
en die doel is steeds Jerusalem, kruis toe.
Ons sukkel ook dikwels om te verstaan,
dat dit ‘n daaglikse loop saam met die Here is.
waar Hy ons lei.
Ons dink eers dat dissipelskap meer vir onsself gaan inhou.
Die bestemming. Die ewige lewe.
Maar op pad saam met die Here ontdek ek, en leer ek,
dat dit eintlik minder van myself beteken,
en al hoe meer en meer van die Here!
Vir ons is dit inderdaad ‘n kruis om “elke dag” onsself te verloën.
ter wille van die Here en ander mense.
Die kruispad verlos ons uiteindelik van onsself.
Ons ontdek dat die sin van die lewe die reis is, saam met die Here.
Elke dag! En tot in ewigheid.
Ernest