Wat vra God van my op hierdie bepaalde tydstip van my lewe?
Hierdie vraag daag jou uit om te verseker dat wat jy gló,
en wat jy leéf, in pas is met mekaar.
Dit help jou om God se hartklop vir die wêreld te ervaar.
Dit gee jou ‘n sterk sin vir God se roeping in jou lewe.
Hierdie vraag moet jy gereeld in jou lewensfases vir jouself afvra.
Wat kan ek doen om getrou te wees aan God se roeping,
wat steéds besig is om dinamies in my lewe te ontvou?
Kyk wat skryf Paulus aan ons in Efesiërs 2:10:
“…in Christus Jesus het Hy ons geskep,
om ons lewe te wy aan die goeie dade,
waarvoor Hy ons bestem het.”
Die boodskap is duidelik:
Elkeen van ons is geskep om,
vanuit jou verhouding met God,
iets uniek in hierdie wêreld te doen.
God het my naam op iets geskryf wat Hy wil hê ek moet doen.
Ek kan nie nalaat om te doen waarvoor ek geskep,
gebore, en geroep is nie!
Hoe stel ek vas wat God wil hê ek moet doen?
Dit is nie so moeilik as wat dit klink nie.
Let op na wat in jou, en rondom jou gebeur!
Jy sal dikwels leidrade raaksien op die pad saam met God.
Onthou ook dat jou roeping gepaard gaan met
‘n groeiende verhouding met die Een wat jou roep.
Namate jy meer en meer met die Here saamleef,
neem Hy jou dieper in jou roeping in.
Ons kan nie ons eie roeping bedink of bewerk nie.
Jy is bestem om in ‘n verhouding met God te wéés,
voordat jy geroep is om enige iets vir Hom te dóén!
Ernest