“….in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy
aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”
Efesiërs 2:10.
Hoe kan ek my roeping prakties ontdek?
Omdat jy God se handewerk is,
is jy ontwerp om sekere dinge uitstekend te doen.
Wat laat jou voel jy lééf?
Neem tyd om hierdie dinge in jou lewe raak te sien.
Kyk na jou passies.
Kies om hierdie dinge so goed as moontlik te ontwikkel.
Die Olimpiese atleet, Eric Lidell, sê in Chariots Of Fire:
“When I run, I feel God’s pleasure.”
Hoe ervaar jy God se vreugde?
Waar ervaar jy God se vreugde?
Kyk na die verhoudings waarin jy leef.
God gee ons ‘n roeping ten opsigte van
die mense wat Hy aan ons toevertrou het.
Ons ouers, broers, susters, huweliksmaat, kinders, vriende.
Ons moet “eerste” hierdie sirkel liefhê,
voordat ons na die volgende konsentriese sirkel beweeg.
God sal jou nooit roep om enige iets te doen wat vereis
dat jy jou geliefdes afskeep nie.
Hy het hulle aan jou toevertrou.
Wat vra hierdie roeping van my, op hierdie tydstip van my lewe?
Jou werk wat jy doen,
verteenwoordig ook ‘n roeping van die Here.
Ja, jy lees reg.
Al doen jy nie nou wat jy graag wil doen nie.
Elke keer wanneer jy by die huis uitstap na jou werk,
vertrek jy op ‘n uitreik vir die Here!
Ons roeping is nie wat ons “vir die kerk” doen nie,
maar wat ons vir die Here doen, en vir mense in sy Naam.
Ons is die kerk in die wêreld, en doen nie iets “vir die kerk” nie.
Die sendingveld is waar ek leef en werk.
Maak nie saak wát jy doen vir werk nie.
Ons moet ook ons roeping raaksien in die swaarkry rondom ons.
Watter hulpkrete gryp jou aan?
Dit is waar God jou wil gebruik om ‘n verskil te maak.
Daarom gryp dit jou hart.
Jou roeping bring jou nader aan nood.
Gehoorsaam die leiding van die Gees hierin,
en jy sal die volheid van jou roeping in Hom ontdek!
Ernest