Mense sê soms dat hulle “hulself moet vind”.
Dit is ‘n eienaardige uitdrukking.
Maar dit onderstreep dat ons van ons ware self vervreem kan raak.
Dit is asof ‘n ander self in ons na vore kom.
Die ander self begin dan vrae aan myself vra!
Paulus praat ook van die “vleeslike” self wat ons moet agterlaat.
Die egosentriese.
Ons moet die geestelike self vind.
Die God-sentriese.
Geestelikes, en geleerdes, heiliges, en filosowe,
het dit deur die eeue baie belangrik geag dat ons onsself moet vind.
Geestelikes het deur die eeue gesê
om jouself waarlik te leer ken is om God te vind.
En om God waarlik te leer ken is om jouself te vind.
Dit klink baie filosofies.
Maar dink mooi daaroor:
Ons eie ervaring van wie ons is,
is dikwels gebou op wie ons dink ons moet wees,
en wie ons wil wees, of wie ons voorgee om te wees!
Dit is ‘n vals self wat eintlik uit maskers bestaan.
Die vals self kan God nie vind nie!
Jou ego hou jou dan vir jou eie doel in stand.
Jou selfbeheptheid neem jou net verder weg van God af.
So skep jy ook vir jouself ‘n vals Godsbeeld.
Dit ontstaan uit jou eie vrese en projeksies.
Wanneer jy egter genadiglik jou ware self gevind het, in naakte eerlikheid,
soos jy waarlik is, ontdek jy ook net daar die liefdevolle Vader!
Die Vader self wat sy kind kom haal!
Dit verander jou onherroeplik!
Dit laat jou uitroep:
“Ek wil u loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep!”
Psalm 139:14.
Ernest