Die baie bekende en uiters begaafde komponis, George Händel,
het ‘n stuk gekomponeer wat oor Jesus se lewe gaan.
Hy het vir 26 dae aanmekaar gewerk.
Een van sy bediendes het op ‘n dag ingestap,
en op ‘n huilende Händel afgekom.
Hy was hoogs besorg en het gevra wat fout is.
Händel het geantwoord dat niks fout was nie,
maar dat hy die hemel voor hom gesien het,
en die grote God self.

Uiteindelik het die dag aangebreek!...
dat hierdie werk van Händel uitgevoer sou word.
Dit was in 1742 en die stuk het bekend gestaan as “Die Messias”.
Daardie dag het Händel soveel geld gekry,
na die uitvoering van hierdie musiekstuk,
dat hy 100 gesinne uit hulle skuld kon koop!
Jy het reg gelees!
Hy het nie die geld vir homself gehou nie.
Hy het dit uitgedeel aan ander wat dit brood-nodig gehad het!
Brood…nodig.

Teen 14 April 1759, toe Händel gesterf het,
het hierdie stuk van hom alreeds meer as 1000 pond verdien!
Dit was verstommend baie geld vir daardie tyd!
Armes is gevoed, siekes versorg, en weeshuise is gebou met die geld.
Händel het baie mense se lewens ingrypend verander met sy goedhartigheid.
En lank na sy lewe getuig mense vandag nog,
hoe God hulle lewe verander het deur hierdie musiekstuk!

Händel wou uit die kollig bly.
Hy wou hê dit moet op die Here val.
Toe die bekende Halleluja-koor uit Die Messias opgevoer is,
het selfs die koning van Engeland opgestaan en gesê:
“Hier word van ‘n groter Koning as ek gesing!”

Dit is vandag nog so.
Wanneer hierdie gedeelte gesing word,
staan almal op vir die groot Koning!

Ons moet ook deur ons dade van goedheid wéét,
ons is eintlik draers van God se goedheid!
Ons moet mense laat opstaan vir Hom!

Ernest