“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Rom. 12:21.

Jim Elliot het gehoor daar is ‘n Indiaanse stam in Suid-Amerika,
wat nog nooit van die Here gehoor het nie.
Hy het besluit om na hulle uit te reik.
Dit was egter lewensgevaarlik.
Hierdie stam was bekend daarvoor,
dat hulle eenvoudig vreemdelinge voor die voet doodmaak.
Maar hierdie stam, die Aucas,
het hom nie afgeskrik ten opsigte van sy roeping nie.

Hy het in Oktober 1955 in hulle dorpie se omgewing aangekom.
Hulle het vir maande geskenke uit ‘n vliegtuig gegooi,
alles in die hoop dat hulle die stam se goeie guns sou wen.
Op 6 Januarie 1956 het Elliot besluit dit is tyd dat hy hulle persoonlik ontmoet.
Maar op 8 Januarie word hy en vier ander sendelinge vermoor……

Jim Elliot se vrou het later teruggekom,
en weer onder hulle begin werk!
En sommige van die stam se lede het tot geloof in die Here gekom.
Dinge het anders uitgedraai vir Jim Elliot as wat hyself beplan het.
Ook anders, as wat almal wat hom ondersteun het, gehoop het.
Maar Elliot het geleef wat hy geglo het.
Hy het opgestaan vir die Here,
en aan die wêreld gewys dat Hy die enigste God is.

Elliot self het gesê:
“Die een wat gee wat hy nie kan hou nie,
om te kry wat hy nooit kan verloor nie,
is verseker geen dwaas nie.”

Peter Fleming, een van die sendelinge wat saam met Elliot gesterf het,
het geskryf:
“A call from God is nothing more, or less, than obedience to the will of God.”

Ernest