In 1917 het die kommunistiese rewolusie in Rusland uitgebreek.
Toe die kerk gereed moes wees vir hierdie oomblik van krisis,
en deur God gebruik wou word in hierdie krisis,
was hulle besig om te vergader,
oor watter kleur die priesters se tossels van hul togas moes wees.
Die kerk in Rusland het uitgemis op hierdie oomblik.
As die regte oomblik vir ‘n spesifieke saak aanbreek,
gaan jy beskikbaar wees vir die Here?
Mordegai, Ester se oom, kom pleit by haar om beskikbaar te wees.
“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie,
dat jy koningin geword het.” Ester 4:14.
God plaas die regte mense, op die regte tye,
op die regte plekke, om hulle te gebruik.
Groot dinge in die wêreldgeskiedenis sou nie gebeur het,
as mense nie besef het;
“miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat ek hier is.”
So het Martin Luther opgestaan toe die kerk dit die nodigste gehad het.
So het Noag dit besef, God gehoorsaam,
en ‘n ark gebou, al het almal hom uitgelag.
Maria het dit besef, en vir die Here gesê sy stel haarself tot beskikking van God.
Sy het nie gedink ‘n maagdelike geboorte is vir God onmoontlik nie.
Thomas Edison het nie gesê hy het al te veel misluk,
en gaan nie verder om ‘n gloeilamp te bou nie.
Hy het aangehou om op die regte plek te wees.
Die beste voorbeeld is Jesus self!
Op die bestemde tyd van God, het Hy kom doen wat Hy moes doen.
Maak nie saak wat mense se reaksie daarop sou wees nie.
As die regte oomblik vir die spesifieke aanbreek,
dit wat God deur jou wil doen,
moenie dit mis nie!
Ernest