Dikwels dink mense dat slegte gebeure vooruitbeplan is,
om ons “lesse uit die hemel” te leer.
Jakobus 4:1 weerlê hierdie siening.
“Waar kom die stryd vandaan,
waar kom die rusies onder julle vandaan?
Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes,
wat gedurig binne in julle woed nie?”
God veroorsaak nie slegte gebeure nie.
Mense veroorsaak dit.
Mense leef buite die beheer van God se Gees,
en daarom is hulle die oorsaak van sonde op aarde.
Menslike ongehoorsaamheid rig geweldige skade aan.
Direk, en indirek, is alles wat in die skepping skeefloop
terugherleibaar na mense se magsbeheptheid,
om self God te wil wees, van die begin af.
Slegte dinge is nie God se skuld nie.
Dit is ook nie God se manier om so te werk nie.
God kies nie krisisse om “op ons te skree” nie.
God het deur die kruis die helderste en duidelikste gepraat!
Die Woord en die kruis is hoe God praat.
As dit jou nie oortuig nie, sal geen ander “lesse jou leer” nie.
God leer ons deur die Gees.
Nie deur slegte gebeure nie.
Die Gees “sit nie en wag” vir slegte gebeure om ons te leer nie.
God stel nie swaarkry toetse op nie.
Hy wil hê ons moet aan Hom vashou in swaarkry!
Ernest