Bybelstudies, preke, gesprekke, en boeke gaan veral oor:
“Hoe om God se wil vir joú lewe te ontdek”.
Natuurlik is dit belangrik.
God wil hê dat ons vir Hom moet leef.
Die probleem is dat mense eintlik in dit alles selfgerig geraak het ,
juis ten opsigte van hul verhouding met God.
Wat is God se plan….vir mý!
God se wil gaan nie in die eerste plek oor sy planne vir mý nie.
God se wil gaan oor God!
Sy wil is dat Hy verheerlik word.
Die hemelse skares doen dit dag en nag.
God se wil is dat daar permanente vreugde in sy teenwoordigheid is.
Lees maar die hele Openbaring 5.
God se wil handel nie in die eerste plek oor sy wil vir mý lewe nie.
Ook nie in die tweede, derde, of vierde plekke nie…
God se wil vir ons oorheers nie God se wil nie.
Ons het God se wil so geïndividualiseer,
dat ons selfgesentreerd begin dink het.
Ons dink God het ‘n sakpas-plan vir elkeen van ons.
God se wil het alles te make met God self!
God se wil het te make met die seëviering
van sy heerlikheid en sy almag.
Dit gaan oor die grootmaak van sy Naam,
deur hemelse en aardse skares.
Wanneer Jesus ons in die Ons Vader gebed leer bid,
dan leer hy ons om te bid dat God se hemelse wil,
ook op aarde sal geskied!
Alles in die totale skepping moet voor die drie-enige God buig.
Dit is God se plan vir jou lewe!
Ernest